T20I-wêreldbeker 2009

Die T20I-wêreldbeker 2009 (Engels: 2009 ICC World Twenty20) het van 5 tot en met 21 Junie 2009 in Engeland plaasgevind. Dit was die tweede T20I-wêreldbeker in T20Ikrieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is na dié toernooi as Wêreldtwintig20 2009 verwys, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend. Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions gespeel. Saam met die Kampioentrofee 2009 in September en Oktober was dit een van twee vername kriekettoernooie in dieselfde jaar.

T20I-wêreldbeker 2009

Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2009
Datums 5 Junie – 21 Junie
Bestuurder Internasionale Krieketraad (IKR)
Krieketformaat Twintig20 (T20I)
Toernooiformaat Groep- en uitklopfase
Gashere  Engeland
Kampioen Pakistan (1ste titel)
Naaswenner Sri Lanka
Deelnemers 12
Wedstryde gespeel 27
Speler van die reeks Tillakaratne Dilshan
Meeste lopies Tillakaratne Dilshan (317)[1]
Meeste paaltjies Umar Gul (13)[2]
2007
2010

Twaalf nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2009 deelgeneem: Nege van die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië), saam met die wenners van die kwalifisering Ierland en Nederland. Nadat die Zimbabwiese span onttrek het,[3] kon die derdeplekspan tydens die kwalifisering Skotland ook aan die toernooi deelneem. Die spanne is in vier groepe van drie spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer. In die Super Agt is die spanne in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.

Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Pakistan het Suid-Afrika en Sri Lanka het Wes-Indië geklop, waardeur die twee Suid-Asiatiese spanne Pakistan en Sri Lanka in die eindstryd ontmoet het. Pakistan het Sri Lanka in die eindstryd op Lord’s in Londen met agt paaltjies verslaan en sodoende sy eerste T20I-wêreldbekertitel ingepalm.[4] Saam met hul oorwinning tydens die Krieketwêreldbeker 1992 was dit Pakistan se tweede internasionale kriekettitel. Beide die gasheer Engeland en die verdedigende kampioen Indië is in die Super Agt uitgeskakel.

. . . T20I-wêreldbeker 2009 . . .

Die Internasionale Krieketraad het Engeland as gasheer vir die T20I-wêreldbeker 2009 aangewys. In Desember 2007 het die IKR ’n T20I-vrouewêreldbeker ingevoer wat gelyktydig met die manstoernooi aangebied sou word; dit was tydens die 2009-toernooi in Engeland vir die eerste keer die geval.[5]

Die volgende twaalf spanne het vir die T20I-wêreldbeker 2009 gekwalifiseer: Australië, Bangladesj, Engeland (gasheer), Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië het as volle lede van die Internasionale Krieketraad met toetskrieketstatus regstreeks vir die T20I-wêreldbeker 2009 gekwalifiseer. Ierland en Nederland het as wenners van die kwalifisering vir dié toernooi gekwalifiseer. Weens Zimbabwe se destydse politieke beleid onder president Robert Mugabe het die Britse regering gedreig om die Zimbabwiese span se toegang na die Verenigde Koninkryk te weier, waarvolgens gevrees is dat die toernooi na ’n ander land geskuif sou kon word.[6] Zimbabwe het egter sy span aan die toernooi onttrek en vervolgens kon Skotland ook aan die toernooi deelneem.[7][8]

Uitslag van die T20I-wêreldbeker 2009
Span Kwalifiseringmetode Verskynings by eindstryde Laaste verskyning Vorige beste prestasie
Engeland Gasheer Tweede 2007 Super Agt (2007)
Australië Volle lede Tweede 2007 Halfeindrondte (2007)
Bangladesj Tweede 2007 Super Agt (2007)
Indië Tweede 2007 Kampioen(2007)
Nieu-Seeland Tweede 2007 Halfeindrondte (2007)
Pakistan Tweede 2007 Naaswenner (2007)
Sri Lanka Tweede 2007 Super Agt (2007)
Suid-Afrika Tweede 2007 Super Agt (2007)
Wes-Indië Tweede 2007 Eerste rondte (2007)
Ierland T20I-wêreldbekerkwalifisering in 2008 Eerste Debuut
Nederland Eerste Debuut
Skotland Tweede 2007 Eerste rondte (2007)

. . . T20I-wêreldbeker 2009 . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . T20I-wêreldbeker 2009 . . .

Previous post Enschede
Next post Dresden