Silkaats

Silkaats (ong. 1790 tot ong. 9 September1868), ook bekend as Mzilikazi, Oemsiligasi of Moselekatse, was die eerste koning van die Ndebele, wat by die binnelanders (Sothos ens.) as die maTebele bekend was.[1] Silkaats was die seun van Matsjobana, hoofman van die klein Khoemalo-stamgroep, wie se tuiste tussen die magsfere van die Ndwandwes en Mthetwas van Zoeloeland ingewig was. Silkaats het ‘n antagonis van die Zoeloenasie geword, grootliks tot die mfecane bygedra, en het die politieke toneel in suider-Afrika herskik.

Mzilikazi Khoemalo
Koning van die Ndebele
Silkaats, stigter en koning van die Ndebele
Dinastie Huis van Khoemalo
Bewind omstreeks 1823 – 1868
Kroning omstreeks 1820
Volle naam Mzilikazi Khoemalo
Gebore omstreeks 1790
Mkuze, Suid-Afrika
Gesterf 9 September1868
Matebeleland
Begrawe 4 November1868
Entoembane, Matobo-gebergte, Zimbabwe
Voorganger geen
Opvolger Lobengoela
Gade Oemoaka en verskeie ander
Kinders Lobengoela (seun), Nkoeloemane (seun)
Vader Matsjobana kaMangete
Moeder Nompethoe kaZwide

. . . Silkaats . . .

Matsjobana het in die Mkuze-omgewing van Zoeloeland gewoon, maar het in ‘n skermutseling met ‘n aanliggende stam, die Soeiti, gesneuwel. Silkaats se oupa, Zwide van die Ndwandwes, het hom in sy pa se plek as hoofman aangestel. Mettertyd het Silkaats egter besluit om sy stam aan die gesag van Shaka te onderwerp. Volgens Bryant is Matsjobana vermoor deur Zwide, sy skoonpa,[2] en het Silkaats dieselde lot gevrees. Nietemin het Zwide in 1819 die onderspit teen Shaka gedelf, en het uiteindelik na die verre noorde gevlug.

Silkaats het aan die boloop van die siKwebezirivier, aan die noordgrens van Shaka se grondgebied gewoon. Vanaf hierdie ligging moes hy as Shaka se onderhorige vir hom strooptogte uitvoer. In 1822 is hy ondermeer na die Transvaalse hoëveld gestuur om die Sotho-hoofman Ranisi te plunder en onderwerp. Na hierdie strooptog het Silkaats egter van die beeste vir homself teruggehou. Toe Shaka daarvan verneem en hom inroep, het Silkaats besluit om hom te verset en het sy vrouevolk in die eNtoebeni-bos[3] versteek terwyl hy verdeeldheid gesaai en aanhangers gewerf het. ‘n Impi van Shaka kon egter die vroue opspoor en uitmoor,[4] waarop die impi self deur Silkaats uitgewis is.

Toe Shaka omstreeks 1823/24 sy elite impi, die oeFasimba, teen Silkaats uitstuur, het Silkaats oor die Drakensberg gevlug met ‘n paar duisend volgelinge wat die kern van sy toekomstige volk sou uitmaak. Sy trekroete het hom verby die huidige dorpe Vryheid en Ermelo geneem, waarna hy hom in die nabye van die hedendaagse Groblersdal vestig, waar hy die stat ekoePhoemoeleni, oftewel “Plek-van-rus” oprig. Teen 1825 het hy sy enKoengwini-hoofstat aan die Apiesrivier aangelê, benewens die enDinaneni- en enHlahlandlela-vestings (of -“iboetho”) aan die bo- en laer-Krokodilrivier. In 1829/30 ontvang hy die eerste besoek van die sendeling Robert Moffat. Hy besoek ook die Vaalrivier, waar hy in konflikte met die Griekwas betrokke raak, wat onder leiding van Jan Bloem, Bêrends en andere strooptogte op sy vee uitvoer. In 1831 voer ‘n mag van Griekwas, Korannas en Betsjoenas ‘n rooftog op sy vee uit, maar ‘n impi slaag daarin om hulle te oorval en grootliks uit te wis.

Silkaats se koningstat in Marico, geskilder deur W.C. Harris

In die winters van 1830 en 1832 het impis van die nuwe Zoeloekoning Dingaan weer op die maTebele toegeslaan, en na skermutselings moes hulle nogmaals weswaarts uitwyk. Die hoofstat Mosega (oftewel Motsenjateng)[5] van die Tswana-sprekende Hoeroetsje-nasie is ingeneem, en hul hoofmanne Mokgathle en Moiloa II is verdryf. Mosega word dan Silkaats se suidelike vesting, benewens ‘n vesting by Tsjwenjane.[6] Meeste stamme tussen die Oranje- en Limpoporivier is nou deur hom verdryf of uitgedelg. Jongmense is as slawe geneem, en bejaardes en babas is uitgemoor.

Sowat 45 myl benoorde van Mosega aan die Groot-maricorivier het Silkaats sy omvangryke koningstat opgerig, en dit eGabeni[7] genoem. Dit het ook as Kapain, Kapajien of Kopanjeng bekend gestaan. Hier het hy die jagter-reisiger William Cornwallis Harris as gas ontvang, en hy sou ‘n toenemend hegte vriendskap met die sendeling Robert Moffat aanknoop. Enige besoeker aan sy ryk moes hom dan via Kuruman en Mosega nader, sodat hulle eers deur Moffat gekeur kon word. Silkaats het aan die sendelinge in Mosega genoem dat hy graag onderwysers, skole en ‘n kerk wou hê, maar sy verklarings is weens sy despotiese geaardheid met omsigtigheid bejeën.

. . . Silkaats . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Silkaats . . .

Previous post Sahoere
Next post โฮเซลีโต รีเบรา