Sahoere

Sahoere was die tweede Egiptiesefarao van die 5de Dinastie tydens ’n tydperk bekend as die Ou Ryk. Sy geboortenaam beteken “Hy wat na aan Ra is”.[1] Sy Horusnaam was Nebchaoe (Nb-ḫˁ.w)

Sahoere
Sahura, Sefres
’n Standbeeld van Sahoere (Metropolitan-kunsmuseum).
Farao van die 5de Dinastie
Periode  2487–2475 v.C.
Voorganger  Oeserkaf
Opvolger  Neferirkare Kakai
Vader  Oeserkaf
Moeder  Neferhetepes
Oorlede  2475 v.C.
Monumente  Piramide by Aboesir
Sahoere in Egiptiese hiërogliewe

Serech of Horusnaam

Nebty-naam

Goue Horus-naam

Nomen of geboortenaam
 

Portaal   Antieke Egipte

. . . Sahoere . . .

Sahoere was die seun van koningin Neferhetepes, soos blyk uit tonele uit Sahoere se piramidekompleks by Aboesir.[2] Sy pa was Oeserkaf. Hy was getroud met koningin Neferetnebty en het verskeie seuns gehad. Ranefer[2] en Netjerirenre kom saam met Sahoere en Nefertnebty op tonele voor en is vermoedelik haar seuns. Horemsaf, Chakare en Nebanchre word in Sahoere se dodetempel uitgebeeld, maar dit is nie bekend wie hul ma was nie.[3] Sahoere is opgevolg deur Neferirkare Kakai, die eerste farao bekend wat aparte name gebruik het. Die Tsjeggiese Egiptoloog Miroslav Verner spekuleer dat Ranefer die troon bestyg het as Neferirkare en dat Netjerirenre dalk later farao Sjepseskare geword het.

Sahoere het omstreeks 2487 tot 2475 v.C. oor Egipte regeer.[4] Volgens die Turynse Koningslys het sy bewind 12 jaar geduur.

Historiese rekords en Egiptiese kuns wys Sahoere het ’n Antieke Egiptiese vloot op die been gebring en met kulture in die Oos-Mediterreense gebied handel gedryf. In sy piramide word sy vloot uitgebeeld, asook sy militêre loopbaan. Dié het hoofsaaklik bestaan uit veldtogte teen die Libiërs in die westelike woestyn. Hy het waarskynlik die begrafniskompleks by Saqqara begin en het ook ’n diorietgroef net wes van Aboe Simbel gebruik.

Sy piramidekompleks was die eerste een wat op die nuwe begrafnisterrein by Aboesir, ’n paar kilometer noord van Saqqara, gebou is (hoewel Oeserkaf toe dalk reeds sy sontempel daar gebou het). Dit was die begin van die afname in die gehalte en grootte van die piramides, hoewel die fragmente van die reliëfwerke wat die tempelmure van die 5de-dinastiese konings versier het, van ’n hoë gehalte was.[5]

Die ruïnes van die Tempel van Sahoere.

Die meeste van wat oor Sahoere bekend is, kom uit sy piramide. Die reliëfwerke in sy grafkelder en valleitempel beeld die telling van buitelanders uit by of voor die godin Sesjat en die terugkeer van ’n vloot van Asië, dalk Bublos. Dit kan dui op ’n militêre belangstelling in die Nabye-Ooste, maar die kontak kon ook diplomatiek of kommersieel gewees het.

Toe uitgrawings in die eerste jare van die 20ste eeu gedoen is, is talle reliëfwerke gevind wat van ’n baie beter gehalte was as dié uit die vorige dinastie. Van hulle is meesterwerke en is steeds in die piramidekompleks. Die piramide is op dieselfde manier gebou as ander uit dié dinastie, met ’n kern van rof gekapte klippe in ’n trapkonstruksie wat bymekaargehou is deur modder. ’n Gang is oopgelos na waar die grafkelder apart gebou is, en dié is later bedek met orige klipblokke en ander bouafval.

Dit was ’n terugkeer na die boustyl van die 3de Dinastie ná die groot piramides by Dahsjoer en Giza tydens die 4de Dinastie.

Vandag is nog net die binnekant oor en dit word bedek met ’n hoop afval wat oorgebly het van die rowwe opvullings en modder. Die binnekant is erg verniel en nie meer toeganklik nie. Dele van die sarkofaag is in die vroeë 19de eeu hier gevind. Die enorme klippeblokke van die dak het volgens ’n raming deur J.S. Perring sowat 220 ton geweeg. Hy het geraam die grootste blokke was 35 x 9 x 12 voet (10,6 x 2,7 x 3,6 meter). Daar was minstens 12 blokke waarvan die kleinste een minder as 100 ton geweeg het.[6] Almal buiten twee is vandag gebreek.

Sahoere se seel.

. . . Sahoere . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Sahoere . . .

Previous post Armeense alfabet
Next post Silkaats