
Brandenburg
Brandenburg (Duits: [ˈbʁandn̩ˌbʊʁk] luister(hulp·inligting), Nederduits: Bramborg/Brannenborg, Neder-Sorbies: Bramborska) is ‘n deelstaat in die noordooste van Duitsland. Die administratiewe hoofstad en grootste stad is Potsdam. Brandenburg grens in die ooste aan Pole, in die suide aan die deelstaat Sakse, in die weste aan die deelstaat Sakse-Anhalt, in die uiterste weste langs ‘n klein deel van die Elbe se rivierloop aan die deelstaat Nedersakse en in die noorde aan Mecklenburg-Voorpommere. Die Duitse hoofstad Berlyn, wat ‘n eie deelstaat vorm, word volledig deur Brandenburg omring.


- Hierdie bladsy handel oor die deelstaat Brandenburg, vir die stad in Brandenburg, sien Brandenburg an der Havel.
Brandenburg se wisselvallige geskiedenis word in historiese bronne gedokumenteer wat sowat tien eeue terugstrek. Die land se status en grense was voortdurend aan veranderinge onderworpe. So het Brandenburg aanvanklik as markgraafskap bestaan, om later ‘n keurvorstedom, die kerngebied van Pruise en een van sy provinsies en uiteindelik ‘n deelstaat van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) te word wat reeds vyf jaar ná sy stigting in 1947 weer ontbind en in drie administratiewe distrikte – Potsdam, Frankfurt (Oder) en Cottbus – omgeskep is. Met die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland op 3 Oktober 1990 het Brandenburg sy vorige status herwin om een van die sestien deelstate van die Federale Republiek van Duitsland te word.
Brandenburg is ten opsigte van sy oppervlakte die grootste van vyf nuwe oostelike deelstate wat op die gebied van die voormalige DDR gevorm is. Sy infrastruktuur is veral op Berlyn gerig, wat soos ‘n eiland in die hart van Brandenburg lê. So word na Brandenburg dikwels as ‘n deelstaat sonder geografiese hartland verwys.[8]
Saam met Berlyn vorm Brandenburg die metropolitaanse gebied (Duits: Metropolregion) Berlyn-Brandenburg, en ook die welvarendste nedersettings van Brandenburg is in die omgewing van Berlyn geleë. Baie voormalige bewoners van die Duitse hoofstad het hulle hier in die landelike groen gordel gevestig.
Die periferie van Brandenburg word deur yl bevolkte gebiede gekenmerk, wat veral op die landbou steun, soos Prignitz, Fläming, Spreewald, Oderbruch of Uckermark. In die omgewing van die stad Cottbus in die suidooste lê uitgestrekte dagboumyngebiede, waar groot hoeveelhede bruinkool vir die termiese kragsentrales van die gebied ontgin word.
Op die oog af is Brandenburg met meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope een van die waterrykste deelstate van Duitsland. Maar ondanks hierdie groot hoeveelhede oppervlakwater is daar ‘n tekort aan grondwater, en die gebied ontvang in vergelyking met ander deelstate ‘n lae reënval. Brandenburg is bowendien ‘n sanderige streek waar die grond sonder aangepaste landboumetodes meestal te arm is vir intensiewe boerdery.
. . . Brandenburg . . .


Brandenburg lê in die Noord-Duitse Laagvlakte. Sy reliëf word deur twee heuwelreekse en twee laagtes oorheers. Die laagtes is riviervalleie, wat aan sy kante deur moerasgebiede begrens word. Hulle is meestal drooggelê en het vroeër groot hoeveelhede turf opgelewer. Die riviervalleie word in die plaaslike Duitse vakterminologie Bruch of Luch genoem.
Die noordelike Brandenburg beslaan net klein dele van die Mecklenburgse Mereplato se Noordelike of Baltiese Heuwelreeks. Die heuwelreeks in die suide loop oor ‘n lengte van 230 kilometer van die Lausitzer Hoogtes (of meer presies die Sorause Sandberge) in die ooste oor Triebel en Spremberg, Calau in die noordweste en tot by die kaal en dorre Fläming – ‘n streek wat sy naam aan Vlaamse setlaars te danke het wat hulle hier in die Middeleeue gevestig het.
Die suidelike laagte lê teen die noordelike rand van die heuwelreeks, met die Spreewald as sy vernaamste landskap. Die noordelike laagte lê teen die voet van die Baltiese Heuwelreeks en word oorheers deur die riviervalleie van die Netze- en Warthebruch, die Oderbruch, die Finowvallei, die Havellandse Luch en die Elberiviervallei.
Tussen die twee laagtes lê ‘n plato, wat vanaf die gebied van die Poolse stad Posen (Poznań) in die ooste in westelike rigting na Brandenburg loop. Sy vernaamste Brandenburgse landskappe is die Sternbergse Land, die Spreeplato en Middelmark. ‘n Aantal laagtes deursny die plato vanuit die suidooste in noordwestelike rigting, soos byvoorbeeld die Faule Obravlakte en die Havelvallei. Die gebied word deur ‘n aantal heuwels en heuwelreekse gekenmerk, waaronder die Semmelberg naby Bad Freienwalde op ‘n hoogte van 157 meter bo seevlak, die Müggelberge in Berlyn-Köpenick (120 meter), die Havelberge 97 meter) en die Rauensche Berge naby Fürstenwalde (112 tot 152 meter).
Die hoogste bergpieke in Brandenburg is die Heidehoogte (Duits: Heidehöhe) naby die grens van die deelstaat Sakse in die suide en die Hagelberg naby Belzig in Fläming op ‘n hoogte van 201 meter.
Die plato word oorwegend deur sanderige grond en uitgestrekte gebiede met dennebome en heide as die belangrikste flora gekenmerk. Ondanks sy dorre voorkoms is die grond orals deurmeng met leem en danksy aangepaste verbouingsmetodes geskik vir landbou.
Meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope en kanale maak van Brandenburg die waterrykste deelstaat van Duitsland. Nogtans word die land deur ‘n tekort aan grondwater geknel. Die meeste groot mere en riviere word deur middel van kanale met mekaar verbind.
. . . Brandenburg . . .