
Bhoetan
Bhoetan (Dzongkha: འབྲུག་ཡུལ་, Druk Yul), amptelik die Koninkryk Bhoetan (འབྲུག་རྒྱལ་ཁབ་, Druk Gyal Khap), is ‘n landingeslote land in Suid-Asië. Dit is landgebonde tussen die Volksrepubliek China in die noorde en Indië in die suide, met die Himalaja in die weste en word deur die Indiese deelstaat Sikkim van Nepal geskei. Die land is ‘n demokratiese grondwetlike monargie, nadat die vorige koning, Jigme Singye Wangchuck, in 2005 bekend gemaak het dat die land van ‘n absolute monargie gaan oorskakel. Die eerste verkiesing is in 2008 gehou.[8]


Bhoetan is na ‘n burgeroorlog in die 19de eeu onder die Wangchuck-dinastie verenig en het politieke bande met die Britse Ryk gevestig. Bhoetan is nooit deur Brits-Indië beheer nie en het as ‘n bufferstaat tussen die Britse besetting in die suide en die Chinese Keiserryk in die noorde gedien, saam met die onafhanklike Himalaja-koninkryke Sikkim en Nepal verder wes. Die land se hoofstad en grootste stad is Thimphu. In 1988 is Dzongkha as amptelike landstaal verklaar. Die grootste persentasie van die bevolking is Boeddhiste met ongeveer 25% Hindoes.
Bhoetan beskik oor vrugbare valleie en grasvlaktes. Die klimaat in die suide is tropies terwyl die noorde bergagtig en koud is. Die meeste inwoners van die land boer met beeste of jakke (Engels: yaks). Die land is van landbou, bosbou, toerisme afhanklik en die verkoop hidroëlektriese krag aan Indië.
Bhoetan is ook bekend vir die ontwikkeling van die konsep bruto nasionale geluk (BNG).[9]Boogskiet word as die land se nasionale sportsoort beskou,[10][11] terwyl krieket in onlangse jare ook sterk groei ervaar het, veral weens die gewildheid daarvan op die Indiese subkontinent.
. . . Bhoetan . . .
-
Die takin is Bhoetan se nasionale dier
-
Die raaf is Bhoetan se nasionale voël
-
Die Bhoetaanse sipres (Cupressus cashmeriana) is Bhoetan se nasionale boom
-
Die meconopsis is Bhoetan se nasionale blom
. . . Bhoetan . . .