James Dean

James Dean (8 Februarie1931 30 September1955) was ’n Amerikaanse akteur.[1] Hy is ’n kulturele ikoon van tiener-ontnugtering, soos gesien kan word in die titel van sy bekendste rolprent, Rebel Without a Cause (1955) waarin hy die rol speel van ’n gekwelde tiener van Los Angeles, Jim Stark. Die ander twee rolle wat hom beroemd gemaak het, is die alleenloper Cal Trask in East of Eden (1955) en die stuurse plaasarbeider Jett Rink in Giant (1956). Dean se voortdurende roem en gewildheid rus vierkant op hierdie drie hoofrolle. Sy voortydige dood in ’n motorongeluk het van hom ’n legende gemaak.[2]

James Dean
Geboortenaam James Byron Dean
Alias Jimmy Dean
Geboorte 8 Februarie1931
Indiana, VSA
Sterfte 30 September1955
Kalifornië, VSA
Nasionaliteit Amerikaans
Beroep(e) Akteur
Rolprente Rebel Without a Cause (1955)
East of Eden (1955)
Giant (1956)
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Rolprentpryse
Prys Jaar Kategorie Prent
Gewen
Golden Globe 1956 Dramatiese akteur Giant
Jussi 1955 Buitelandse akteur East of Eden
Benoem
Oscar 1955 Akteur East of Eden
Oscar 1956 Akteur Giant
Bafta 1955 Akteur in ’n hoofrol East of Eden
Bafta 1955 Akteur in ’n hoofrol Rebel Without a Cause

Hy was die eerste akteur wat nadoods benoem is vir ’n Oscar vir beste akteur en is steeds die enigste akteur met twee nadoodse benoemings. In 1999 het die American Film Institute hom 18de geplaas onder die beste akteurs van alle tye.[3]

. . . James Dean . . .

James Byron Dean is op 8 Februarie 1931 in Indiana, VSA, gebore. Hy en sy gesin het later na Santa Monica, Kalifornië, getrek. Sy ma is dood toe hy nege jaar oud was. Sy pa kon nie sy seun versorg nie en het hom na sy tante op ’n plaas in Indiana gestuur, waar hy in ’n Kwaker-omgewing grootgeword het.

Dean het die raad en vriendskap opgesoek van ’n Metodistepastoor, eerw. James DeWeerd. Dié het blykbaar ’n groot invloed op hom gehad, veral wat betref sy toekomstige belangstelling in bulgevegte, motorrenne en die teater. Volgens Billy J. Harbin het “Dean ’n intieme verhouding met die pastoor gehad . . . wat begin het in die senior jaar van sy hoërskool en wat jare geduur het”.[4] Hul seksuele verhouding is vroeër gesuggereer in die 1994-boek Boulevard of Broken Dreams: The Life, Times, and Legend of James Dean deur Paul Alexander.[5] In 2011 is berig dat hy sy medester in GiantElizabeth Taylor vertel het dat hy ná sy ma se dood deur ’n pastoor gemolesteer is.[6]

In die hoërskool het Dean in die algemeen swakkerig presteer. Hy was egter gewild en het in die skool se bofbal– en korfbalspanne gespeel. Hy het ook drama studeer. Nadat hy sy skoolloopbaan in 1949 voltooi het, het Dean teruggetrek na Kalifornië en by sy pa en stiefma gebly. Hy het ’n graad aan die Santa Monica-kollege behaal en daarna vir ’n semester aan die Universiteit van Kalifornië studeer.[7] Hy het sy hoofvak na drama verander en dit het ’n vervreemding tussen hom en sy pa veroorsaak. Hy is as student uit 350 akteurs gekies om die rol van Malcolm in Macbeth te speel. Hy het in dié tyd ook in James Whitmore se werkwinkel begin toneelspeel. In Januarie 1951 het hy opgeskop om voltyds toneel te speel.[8]

In East of Eden (1955).

Dean se eerste televisie-optrede was in ’n Pepsi Cola-advertensie.[9] Hy het in die TV-program Hill Number One gespeel en drie klein rolle gehad in Fixed Bayonets!, Sailor Beware en Has Anybody Seen My Gal?

Terwyl hy gesukkel het om rolle in Hollywood te kry, het hy as ’n parkeeraanwyser by CBS Studios gewerk. In dié tyd het hy Rogers Brackett, ’n radioregisseur van ’n advertensiemaatskappy, ontmoet en dié het hom professionele raad en leiding aangebied in sy loopbaan, asook ’n plek om te bly.[10][11]

In Oktober 1951 het Dean na die stad New York getrek, waar hy in ’n speletjiesprogram gewerk het. Hy het ook in ’n paar CBS-televisiereekse verskyn voordat hy toegang tot die legendariese Actors Studio gekry het om onder Lee Strasberg te studeer.

Sy loopbaan het op dreef gekom en hy het in nog televisiereekse van die 1950’s gespeel, soos Kraft Television Theatre, Robert Montgomery Presents, Danger en General Electric Theater. Positiewe resensies van sy verhoogrol van Bachir, ’n huiskneg van Noord-Afrika, in The Immoralist het die aandag van Hollywood getrek.[12]

. . . James Dean . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . James Dean . . .

Previous post AB de Villiers
Next post Harry Liedtke