Ösling

Die Ösling (Luxemburgs: Éislek) is ‘n yl bevolkte landskap en uitloper van die Ardenne-bergreeks in die noorde van die Groothertogdom Luxemburg.

‘n Tipiese landskap in die Ösling

. . . Ösling . . .

Ösling is die (Hoogduitse) Luxemburgse naam van ‘n geologiese formasie, wat ook as Rynlandse Leisteenplato (Duits: Rheinisches Schiefergebirge) bekend staan en vanuit Frankryk deur België en Luxemburg tot by Duitsland loop.

Die formasie word in Frankryk Ardennes genoem, in België Ardenne (enkelvoud) of Aquilaine en in Duitsland Eifel. Die terme Schnee-Eifel of Schneifel verwys in Oos-België en in Duitsland na die hoogste dele van die Eifel-gebergte. Die grensgebied met die Luxemburgse Ösling (Éislek) heet in Duitsland Islek en in die suidelike deel van Oos-België Eeslek.

Die Ösling beslaan met ‘n totale oppervlak van 830 vierkante kilometer in die noorde van Luxemburg sowat ‘n derde van die Groothertogdom Luxemburg en grens in die suide langs ‘n verbeelde lyn, wat van Perl (Frans Perlé, Luxemburgs Pärel) in die weste tot by Vianden (Luxemburgs: Veianen) loop, aan die Gutland (Luxemburgs: Guttland).

Die Our-rivier in Vianden

Met ‘n gemiddelde hoogte van tussen 400 en 500 meter bo seevlak word die landskap van die Ösling deur ‘n plato oorheers, wat in die suide effens afhel, en deur golwende heuwels en diep ingekeepte riviervalleie gekenmerk word. Kneiff en Burgplatz is met 560 meter die hoogste bergspitse in Luxemburg. Die Ösling beskik met die Lac de la Haute-Sûre in die Natuurpark Öewersauer en die Vianden-dam in die Natuurpark Our ook oor twee van die grootste stumere in die groothertogdom.

In die noorde word die Ösling deur ‘n uitgestrekte, effens heuwelagtige plato met laer valleie oorheers, terwyl die riviere Uewersauer, Our, Wolz, Klierf (Frans: Clerve) en Blees riviervalleie met grasbedekte oewers in die suidelike plato met sy landbougebiede gekeep het. Die bosgebiede in die sentrale en suidelike Ösling pronk met eikebome wat sowat 300 jaar gelede geplant is en ‘n belangrike rol in die streekekonomie gespeel het. Die bas is deur plaaslike looierye by die vervaardiging van leer gebruik. Die eikebomme oorheers die landskap nou saam met die sparboom-monokulture, wat veral na die Tweede Wêreldoorlog aangeplant is en die oorspronklike beukeboombosse grotendeels vervang het.

Die bewoonde gebiede van die Ösling spog met verruklike plattelandse dorpe, en baie van die Middeleeuse dorpe soos Esch-Sauer, Clerf, Vianden en Wolz beskik oor statige kastele en vestings wat op bergspitse en rotshange opgerig is.

Die kasteel van Vianden

Die Ösling bestaan uit metamorfe gesteentes wat oorspronklik uit die periode van die Onder-Devon dateer. Die gebied was destyds deur ‘n uitgestrekte vlak see bedek, waarin in die Ösling-gebied hoofsaaklik afsettings van leem en sand ontstaan en geleidelik verhard het. Die vorming van die huidige landskap het sowat 330 miljoen jaar gelede tydens die Onder-Karbon ‘n aanvang geneem toe die Devoniese gesteentes geplooi is. Uit die geplooide gesteentelae se boonste lae is as gevolg van erosie uiteindelik die Rynlandse Leisteenplato gevorm.

Gedurende die Tersiêrtydperk sowat 50 miljoen jaar gelede is die huidige landskap met sy riviere gevorm. Vanweë die geweldige druk en hitte, wat by die vorming van die gebergte ontstaan het, het baie van die Devoniese gesteentes na ander soorte rots verander. In die Ösling het veral leisteen en kwartsiete ontstaan.

Die Ösling se geologiese ondergrond bestaan in die noordweste en in die mees suidelik geleë dele uit gesteentes, wat tydens die Pragium-tydperk van die Devon gevorm is. Daartussen lê gesteentelae uit die Emsium-tydperk. Die oudste gesteentes uit die Onder- en Middel-Pragium bestaan uit kwartsofillades, kwartsagtige sandsteen en sandige kompakte leisteen. Hulle kom net langs die Belgiese grens in die noordwestelike Ösling voor.

‘n Voorbeeld van verweerde leisteen uit die nabygeleë Eifel-gebergte

Tydens die Opper-Pragium het oorwegend schiefergesteentes met soms leemagtige sandbanke ontstaan. Maklik splitsbare kleilei (‘n soort leisteen) kom in die omgewing van Martelange (België) voor en is hier oor ‘n lang tydperk ontgin.

Die leisteen van Stolzebuerg (leisteen met goed gestruktureerde lae, kwartsofillades en kwartsagtige sandsteen) en die kwartsofillades van Schuttbuerg, wat daarnaas ook kwartsagtige sandsteen bevat, dateer uit die Onder-Emsium. Die Middel-Emsium word deur die gekleurde leisteen van Clerf gekenmerk. Die jongste gesteente in die Ösling lê in die Wëlzer Kaul wat soos ‘n streep vanuit die Belgiese grens naby Harel in noordoostelike rigting dwarsdeur die Ösling tot by die Duitse grens naby Rouderssen strek. Sy kern word deur die leemagtig-sandige, donkerblou Wëlzer leisteen uit die Opper-Emsium gevorm, wat ‘n groot hoeveelheid fossiele bevat. Hulle is omrand met ‘n dun strepie van die sogenaamde Bärel- of Hasselter kwartsiet – die hardste gesteente in Luxemburg met ‘n kwartsgehalte van tussen 95 en 98 persent. Dit is in die plaaslike steengroewe ontgin.

Die gesteentes van die Ösling verweer tot steenagtige en leemagtige grond wat min voedingsstowwe bevat. Veral fosfor en kalk ontbreek in die plaaslike grond. Die landbou in die Ösling het voordeel uit die industrialisering in die suide van die land getrek. Die sogenasamde Thomas-slak, ‘n neweproduk van die yster- en staalbedryf se smeltproses, kon weens sy hoë fosfoorgehalte fyngemaal en as kunsmis gebruik word.

. . . Ösling . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Ösling . . .

Previous post Glasryk
Next post Tytuvėnai