
Hermien Dommisse
Hermien Dommisse (1915–2010) was ‘n bekende Afrikaanseaktrise, regisseur, skrywer en kampvegter vir Suid-Afrikaanse teater. Sy was ook by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) betrokke.
. . . Hermien Dommisse . . .
Hermien Anna Dommisse is op 27 Oktober1915 op Ermelo gebore as een van vyf kinders van Evert Petrus Benjamin Dommisse en Hester Maria Elizabeth (Hettie) du Plessis.[1] Die gesin verhuis na Pretoria, waar sy groot word en haar skoolopleiding ondergaan. Sy matrikuleer aan Pretoria Girls High School.
Van kleinsaf is haar begeerte om aktrise te word en reeds op skool rig sy ’n skoolopvoering af en speel self ook gedurende vakansietye in die Hendrik Hanekom-geselskap. Op skool reeds skryf sy kinderstories vir Pretoria News. Sy studeer van-af die einde van die twintigerjare verder aan die Universiteit van Pretoria, waar sy ’n B.A.-graad en ’n Hoër Onderwysdiploma verwerf. Hierna gee sy vir ’n ruk skool aan die Helpmekaar Hoërskool in Johannesburg, terwyl sy deeltyds toneelresensies skryf. In hierdie tyd neem sy ook deel aan skermsport en verwerf nasionale kleure hierin, terwyl sy later ook graag deelneem aan sweeftuig-byeenkomste. Sy behaal haar doktorsgraad in Drama aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif wat oor die verhouding tussen toneel en die gemeenskap handel.[2]
Sy neem in die vroeë 40’s gereeld deel aan die uitsending van radiodramas vanaf die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se ateljees in Commis-sionerstraat in Johannesburg. Hier ontmoet sy vir André Huguenet, wat haar uitnooi om ’n hoofrol in Helshoogte, die Afrikaanse verwerking van Wuthering Heights, te speel. So begin haar loopbaan as beroepsaktrise.
Van haar verhoogoptredes sluit in rolle in Oorlog is oorlog van J.F.W. Grosskopf, Joan of Lorraine van die Amerikaanse dramaturg Maxwell Anderson, The river line van die Britse Charles Morgan, Die koopman van Venesië van William Shakespeare en Die vader van August Strindberg. Sy speel ’n leidende rol met die stigting van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) en maak reeds in die dertigerjare voorbrand hier-voor deur hierdie inisiatief onder andere met die destydse Eerste Minister, generaal J.B.M. Hertzog, te gaan bespreek. Na die stigting van die NTO in 1947 sit sy haar beroep onder hierdie vaandel voort, beide as regisseur van verskeie stukke (ook opera) en as aktrise. Sy is onder andere betrokke as regisseur van W.A. de Klerk se Jaar van die vuuros en Molière se Iepekonders.[2]
Sy vergesel haar man in 1946 wanneer hy aan Harvard Universiteit in Boston in Amerika gaan studeer. In New York maak sy kennis met onder andere Orson Welles en Ingrid Bergman.[2]
By hulle terugkeer vestig die egpaar hulle weer in Krugersdorp. In verskeie rolprente speel sy rolle, waaronder Die kandidaat, Jannie Totsiens en Pappalap van Jans Rautenbach, Aanslag op Kariba, Ma skryf matriek, Netnou hoor die kinders!, Plekkie in die son, Fiela se kind en That Englishwoman. Sy tree later ook op televisie op in Agter elke man en vertolk onder andere vir veertien jaar ’n rol in die sepie Egoli. Benewens aktrise is sy ook regisseur (wat opera en Engelse dramas insluit) en kunsresensent.
. . . Hermien Dommisse . . .