Glasryk

Die sogenaamde Glasryk (Sweeds: Glasriket) in die historiese provinsie Småland in Suidoos-Swede is sedert die 18de eeu die tradisionele geografiese sentrum van die Sweedse glaskuns en behels vandag veertien glasfabrieke en ‘n verskeidenheid kleiner ondernemings in die munisipaliteite Emmaboda, Nybro, Uppvidinge en Lessebo. Die meeste glasfabrieke is in klein dorpe soos Kosta, Orrefors, Nybro oder Lessebo gesetel, terwyl Växjö met sy glasmuseum in die weste van die Glasryk as die hoofstad van die gebied beskou word.

Voorbeelde van kunsvolle glasvoorwerpe uit die Sweedse Glasryk

Die glasfabrieke en hul kunsvolle produkte het lankal ‘n onmisbare deel van die Sweedse kultuur geword, en voorbeelde van dekoratiewe glaskuns uit die gebied word in baie Sweedse huise en woonstelle aangetref.

. . . Glasryk . . .

Graalglaskuns: Fjärilar (“Skoenlappers”) deur Astrid Gate. Die Graalglastegniek is tussen 1916 en 1982 deur die glasfabriek Orrefors ingespan om glaskunswerke met verskillende verflae te skep
Bollspelande flickor (“Balspelende meisies”). Bokaal deur Edward Hald (1919)

Glas is vir die erste keer in 1556 in Swede vervaardig, tog is die eerste glasfabriek in die land eers sowat 200 jaar later in die land gevestig.[1]

In Småland het die glasvervaardiging omstreeks 1628 begin toe Karl Karlsson Gyllenhielm, ‘n halfbroer van koning Gustav II Adolf, die glasblaser Paul Gaukunkel uit Duitsland of Nederland uitgenooi het om die plaaslike natuurlike hulpbronne soos kwartssand en brandhout as basis vir die vestiging van ‘n glasbedryf te gebruik. Mettertyd het meer as honderd klein bedrywe en fabrieke hulself in die streek gevestig.

Die gebied tussen Växjö en Kalmar met sy uitgestrekte bosse was uiters geskik vir die vestiging van ‘n glasnywerheid wat brandhout vir sy oonde benodig het. Net die tekort aan opgeleide ambagsmanne was ‘n knelpunt vir die bedryf, alhoewel reeds Gustav Wasa sowat 200 jaar vroeër Venesiaanse glasblasers na Swede gelok het wat ook met die beroepsopleiding van Swede vir ‘n loopbaan in die glasbedryf begin het. Die Smålandse glasmakery is uiteindelik veral deur ambagsmanne uit Boheme aan die gang gesit, en hul nasate speel nog steeds ‘n belangrike rol in die bedryf.

Die oudste glasfabriek, Kosta, is in 1742 (sommige bronne gee 1726 as die stigtingsjaar) deur twee voormalige generale, Anders Koskull en Georg Bogislaus Staël von Holstein, gestig nadat koning Karl XII hulle in erkenning vir hul militêre prestasies tot provinsiale goewerneure van Småland benoem het. Die fabriek se naam is uit die beginletters van hul vanne saamgestel, en dit is veral gevestig om ‘n ekstra inkomste vir die goewerneurs te genereer. Die tweede oudste glasfabriek, Rejmyre, is in 1810 deur Johann Jakob Graver gestig.

Die plaaslike owerhede het die glasbedryf in Småland gedurende die 18de en 19de eeu doelbewus bevorder. Veral die goewerneurs van Kronoberg en Kalmar het daarin belang gestel om die omgewing tot ‘n nywerheidsgebied te ontwikkel. Glasvervaardigers is uiteindelik danksy die beskikbaarheid van groot bosgebiede na die streek gelok, aangesien hulle groot hoeveelhede brandhout as energiebron benodig het. Die fabrieke het hulle aanvanklik op die massavervaardiging van glas vir die Sweedse mark toegespits. Kosta het later bekend gestaan vir sy kristalglas wat die hoogste loodinhoud in Swede (tot by dertig persent) bevat het.

Kunsglas deur Simon Gate (1924)

As gevolg van die strawwe mededinging tussen die verskillende glasfabrieke het nyweraars in die laat 19de eeu begin om hul glasprodukte deur kunstenaars te laat ontwerp. Veral vervaardigers soos Orrefors en Kosta het met hierdie strategie in die 19de eeu ook bekendheid op internasionale markte verwerf. Orrefors het taamlik laat in 1898 tot die glasbedryf toegetree en aanvanklik hoofsaaklik vensterglas en bottels vervaardig. Toe die Göteborgse nyweraar Johan Ekman die fabriek in 1913 oorgeneem het, het hy na die produksie van tafelglas en dekoratiewe glaskuns oorgeskakel.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Ekman daarin geslaag om die kunstenaars Simon Gate (1883-1945), ‘n landskapskilder, en Edward Hald (1883-1980), ‘n skolier van Henri Matisse, aan te stel. Hul glaskunswerke het Orrefors tot ‘n glasmanufaktuur van wêreldfaam laat ontwikkel. In teenstelling met die meeste ander glasfabrieke in Swede, wat massavervaardigers vir die plaaslike mark gebly het, het die Smålandse glasblasers hulle as meesters van die glaskuns onderskei wat groot sukses op die internasionale markte behaal het. In hierdie tydperk is na die Oos-Smålandse hartland van die glasbedryf ook die eerste keer as “Glasryk” verwys.

Tans is daar veertien glasvervaardigers in die Smålandse Glasryk, waarby die groot aantal kleiner glasateljees van plaaslike kunstenaars nie ingereken is nie. Glasprodukte uit die Glasryk word internasionaal met die gewilde Sweedse ontwerpkuns vereenselwig. Naas indrukwekkende glasware vir die huishoudelike gebruik soos drinkglase en vase vervaardig die fabrieke ook kunswerke uit glas.

. . . Glasryk . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Glasryk . . .

Previous post Heinrich von Kleist
Next post Ösling